CALITZDORP – Die drumpels van die plakkers van Kliniekbult/Kliniekrand in Calitzdorp was voos getrap vir hulle kruisies.
Nou, ná die verkiesings, soek hulle hulle huisies.
Ouma Jaina Schoeman (61) kla: “My drumpel is deurgetrap. Daar’s beloftes gemaak.
“Nou soek ons daai beloofde huise. Kyk ons omstandighede. Hoe kan ’n mens 61 jaar oud raak en nog nie jou eie huis besit nie?
“My man is oud en swaksiende. Ons het nie eens ’n toilet of water nie.
“Toe ek gaan aanklop vir krag, toe word daar vir my gesê ek moet maar my eie kragboks koop.”
Die ou kliniek is sigbaar van die pad af en meer as ses gesinne het die groot gebou in kleiner wooneenhede verdeel met bitter min privaatheid.
Ene Mina kla ook: “Die rooi, die blou en die geel het ons gebelowe. Nou hét hulle ons kruisies en ek het hulle inkmerk op my nael.
“Nou moet hulle uitsteek met ons huisie. Hulle het mos belowe binne ’n maand kry ons almal huise.
“Ek willie my kinners in hierdie vuil kliniek grootmaak nie.”
Rondom die kliniek is daar nog etlike matjoks waarin daar ook mense woon sonder toilette en krag.
Jakob Willemse, DA-voorsitter in Kannaland, sê: “Die probleem lê by die waglyste waaraan daar voortdurend gepeuter word.
“Mense was reeds in opstand hieroor. Ons het reeds ’n ondersoek hierna aanvra.”
*son
Hierdie nuusberig weerspieël nie noodwendig die mening van SAUKnuus nie.