Vyf gewapende mans het ’n vrou en haar dogter Woensdagoggend omstreeks 3:00 in hul huis in Meyerhof, Bothaville, oorval.
Die mans het die slot van die toegangshek na die huis gebreek en ’n deur oopgebreek om by die huis in te kom, sê kapt. Stephen Thakeng, ’n polisiewoordvoerder.
Rinette Erasmus (42) en haar dogter het gehoor hul honde, wat in die huis slaap, blaf, maar die mans het die honde met pepersproei gespuit en die vroue oorval voordat hulle hulp kon ontbied.
Erasmus se man was uitstedig tydens die voorval.
Sy en haar dogter is vasgebind en hul koppe is toegemaak.
Die rowers het twee vuurwapenkluise uit ’n muur gebreek en iemand gebel om hulle te kom oplaai. Daar was ’n haelgeweer en ’n pistool in die kluise. Hulle het ook selfone en ander waardevolle artikels in die huis gebuit voordat hulle op die vlug geslaan het.
Die slagoffers het hulself omstreeks 5:00 Woensdagoggend bevry en hulp ontbied.
Die plaaslike buurtwag, lede van die polisie en landelike beveiliging is ontplooi, maar die rowers was toe reeds ’n geruime tyd weg.
’n Ingeligte sê ’n brandkluis waarvan die beskrywing ooreenstem met dié van Erasmus, is tussen Welkom en Bultfontein langs die pad gekry.
Dit kon nog nie bevestig word of dit dieselfde kluis is nie.
Deur: Netwerk24