Vrystaatse boere het volgens ʼn opname van Vrystaat Landbou (VL) die afgelope jaar reeds meer as R6 miljoen bestee om herstelwerk aan provinsiale en munisipale paaie te doen.
Volgens die President van Vrystaat Landbou, Francois Wilken, belemmer die algemene gebrek aan onderhoud van die provinsie se padinfrastruktuur, toeganklikheid vir arbeid en die aflewering van produkte. Dit veroorsaak ook talle ongelukke wat die situasie lewensgevaarlik maak op Vrystaatse paaie.
Luister Hier:
“Vanweë die gebrekkige regeringsvermoë en traagheid om paaie te herstel word boere toenemend gedwing om dit self te doen Die R6 miljoen-syfer is minder as die werklike koste wat aangegaan is. Daar is baie werk aan paaie deur boere gedoen wat waarskynlik nie eens gerapporteer is nie,” sê Wilken.
Hy het bygevoeg dat wanneer geleentheidskoste, produksietydsverliese, slytasie op toerusting en voertuigherstelwerk bygereken word, sou die bedrag veel hoër gewees het. VL meen die situasie is die ergste in die Noordoos-Vrystaat, waar daar in die Thabo Mofutsanyana-distrik ʼn groep van vyf boere is wat jaarliks saam meer as R1 miljoen moet bestee, net om paaie gangbaar te hou.
Wilken sê as hulle dit nie doen nie, is dit haas onmoontlik om hul graan, tuinbou- en veeprodukte aan die mark te lewer. Volgens VL is briewe al herhaaldelik – en onsuksesvol – aan LUR’e en ministers geskryf om die probleme te pak. Die organisasie win nou regsadvies in om ʼn oplossing te probeer vind. “Vrystaat Landbou se regspan ondersoek tans moontlike regsroetes ten einde die landbougemeenskap se regte te beskerm en dienslewering te verseker. VL is vasbeslote om die saak ten volle te op te klaar,” sê Wilken.