Bo en behalwe die skrikwekkende feit dat dit keer op keer bewys is, dat daar GEEN vermoë of vertroue is dat nog die SAPD nog die SANW, ons veiligheid kan of wil verseker nie, is dit ook ‘n diep gewortelde feit dat wapens deel van ons kultuur is, al vir eeue lank, en om ons van wapens te ontneem is om ons kultuur te beskadig. Gaan die ANC die Zoeloe van hul assegai ontneem?
Die sentiment is ook ingesluit in Die Afrikanerbond se omvattende ontleding en kommentaar op die Konsep Vuurwapenbeheer Wysigingswetsontwerp, wat die naweek by die Burgerlike Sekretariaat vir die Polisiediens ingedien is.
Luister Hier: https://saukradio.com/wp-content/uploads/2021/08/3-Aug-wapenwet.mp3
Volgens Die Afrikanerbond, ʼn Afrikanerbelange organisasie met lede in alle vertakkinge van die samelewing, verspreid regoor die land, is vuurwapens ʼn integrale deel van die uitlewing van ons kultuur, of dit nou is vir die doeleindes van jag, skyfskiet, selfverdediging of vir die versameling van erfenisstukke is. Dit is in die konteks dat Afrikanerbond skriftelik reageer het op die voorgestelde Vuurwapenbeheer Wysigingswetsontwerp:
- Die Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing word gesien as nog ʼn aanslag op eiendomsreg en in die geval is dit vuurwapen onteiening van Suid-Afrikaanse burgers. Wanneer enige eiendomsreg bedreig word hetsy dit grond of vuurwapens is, moet dit op dringende basis hanteer word.
- Vuurwapens, meestal onwettig, word gebruik tydens plaasaanvalle, huisbetredings, motorkapings en onder andere moord op vroue en kinders. Met ‘n disfunksionele polisiemag wat effektiewelik deur al meer privaat sekuriteitsmaatskappye vervang is, het die siviele bevolking ‘n groot behoefte om hulself te verdedig en wil hulle wettig vuurwapens besit om dit wel te kan doen.
- Hierdie proses van die voorgestelde Vuurwapenbeheer Konsepwetgewing, ontwapen wettige eienaars en maak hulle doelbewus die prooi van onwettige vuurwapen hanteerders en misdadigers wat hulle nie steur aan die wetgewing nie.
- Die grootskaalse ontwapening van wetsgehoorsame burgers kan nie gebeur in ʼn omgewing waarin misdaad floreer nie. Die staat sal eers sy eie huis in orde moet kry alvorens daar gedink kan word aan enige wetsontwerp wat vuurwapenbesit en beheer inperk:
In ‘n verklaring wat deur Jan Bosman, Hoofsekretaris van die Afrikanerbond uitgereik is, word genoem dat die voorgestelde wysigingswet verskeie gevestigde regte van vuurwapeneienaars verander, en beperk sekere regte en kriteria om ‘n vuurwapen te besit. Verskeie van hierdie regte wat aangetas word, word reeds in die grondwet beskerm.
Die nuwe wapenwetsontwerp wat dié regte sal skend, behels onder andere:
- dat selfverdediging nie meer as rede aangevoer kan word waarom ‘n aan ‘n persoon toegeken behoort te word nie,
- minder vuurwapens vir toegewyde jagters,
- geen privaat versameling van vuurwapens word toegelaat nie, en;
- geen herlaai van ammunisie word toegelaat nie.
Soos Nuus.net vroeër berig het, het Die Afrikanerbond ook op 26 Julie 2021 aan die Minister van Polisie geskryf en versoek dat die voorgestelde wetgewing in sy geheel onttrek moet word,maar het dusver nog nie ʼn reaksie op die skrywe ontvang nie.
Luister en Lees ook: SAPD het Misluk om Gemeenskappe en Besighede te Beveilig in Onlangse ANC Onluste en Moet dus die Wapenwetsontwerp Terug Trek!