Twintig vragmotors het op 30 Maart die tog van 1 360 km van Middelburg, Mpumalanga, na Springbok in die Noord-Kaap aangepak om voer en ander skenkings vir boere in die droogtegeteisterde Namakwaland te bring.
Mnr. Carel Opperman, voorsitter van die Broodsnyersplaas-boerevereniging, wat die skenking gekoördineer het, sê hulle het oulandsgrasbale, mielies en ’n gebalanseerde voerrantsoen wat hulle verkorrel het, geskenk. “Van die boere het mieliemeel ook geskenk, want dis nie net die diere wat sukkel in die droogte nie.”
Baie van die boere het voer, vragmotors én bestuurders gegee. Opperman sê die Middelburgboere se vroue het ’n groot bydrae gelewer deur pakkies kos en toiletware vir die boere en hul gesinne op te maak. “Dit was uiteindelik ’n lekker groot gemeenskapsprojek en die vroue het baie gehelp. Mense van buite die landbou het ook bydraes gelewer. Daar was selfs ’n laerskool wat nie-bederfbare goedere ingesamel en saamgestuur het.”
Hulle het vroeër in Maart agt vragte ruvoer en mielies gestuur om die boere vinniger te help, maar wou hierdie keer self kom kyk om hulle te vergewis van die omstandighede en die boere in Namakwaland te kom moed gee. “Ons sal nooit almal uit die nood kan help nie, maar dalk kan ons hulle help tot die volgende vrag of reën kom.”
Hulle het langs die pad hulp gekry van die verkeerspolisie wat hulle deur die tolhekke op die N4 gehelp het. Namate hulle dieper in die Noord-Kaap gery het, het mense hulle deur die dorpe gehelp en kospakkies en koeldrank vir die vragmotorbestuurders gegee.
“Die landbougemeenskap is ons hartklop,” sê mnr. Louis Strydom, bemarkingsdirekteur van Omnia Kunsmis, wat voer saam met die konvooi na Namakwaland gestuur het. “Dit is hoe ons dinge doen – ons sien om na mekaar in tye van nood. Uiteindelik gaan die lewe daaroor om terug te gee en te help.”
Dié landboumaatskappy het ook die afgelope week met die samewerking van vervoerkontrakteurs voer aan boere in die Van Wyksvlei-omgewing in die Noord-Kaap geskenk.
Mnr. Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland en boer van Springbok, sê die skenking sal help dat boere vir die volgende twee tot drie weke nie uit hul eie sakke hoef voer te koop nie, en hul moreel lig. Die skenkings word net aan die 255 lede van Agri Namakwaland gegee. Sowat ’n derde van die lede is bruin boere wat hoofsaaklik op die 1,8 miljoen ha kommunale grond in Namakwaland boer.
Hoe kan die boere van Namakwaland wat die skenking ontvang, hulle bedank?
“Dankie is genoeg,” sê Opperman. “ ’n Mens doen nie so iets en verwag om iets terug te kry nie, want dan doen jy dit om verkeerde redes. Ons het veilig hier aangekom en kan ander mense help. Dis meer as genoeg. Ons hoop ons kan ’n verskil maak.”
Hy sê as die voer tussen die boere verdeel word, kry elkeen eintlik min voer, maar dit gee hulle weer moed.
Opperman sê die lede van Broodsnyersplaas-boerevereniging boer meestal met mielies, soja en beeste. Hulle produseer hul eie voer en probeer altyd voorberei vir die winter. Hoewel hulle in die afgelope somer minder reën as hul langtermyngemiddelde van 650 mm gekry het, was die verspreiding van die reën goed en staan daar ’n “nie te slegte oes” op die lande.
Mense wat by die projek wil betrokke raak, kan Opperman by 082 3880 894 bel.
Hierdie berig weerspieël nie noodwendig die mening van SAUK-nuus nie