Die grootste enkele rede waarom inwoners in munisipale gebiede watertekorte ervaar, is die wanordelike stand van munisipaliteite landwyd en veral dié onder ANC-bestuur wat nie hul waterrekeninge betaal nie.
Die minister erken self die probleem lê deels by die ineenstorting van infrastruktuur. Dit is jammer sy erken nie ook dat dit die skuld van die ANC is nie.
Dit raak ook al hoe meer onaanvaarbaar om die skuld op die vorige bedeling te probeer pak. Apartheid het niks te make met ANC-bedrog, korrupsie en sy onvermoë om te regeer nie. Munisipaliteite se skuld by nege waterrade beloop tans R14 miljard. Die geld kan nie net afgeskryf word nie.
Die water wat daar wel is, word vermors of besoedel. In April vanjaar het die VF Plus ʼn strafregtelike klag ingedien teen die bestuurder van die Mafube-plaaslike munisipaliteit oor die storting van rou riool in die Wilgerivier by Frankfort. Die riooldam by die munisipaliteit is ook lank reeds buite werking.
In Manguang het swak onderhoud verlede jaar gelei tot die vermorsing van 13 miljard liter water. Dit is 36 miljoen liter per dag. In geldwaarde beteken dit dat R233miljoen in die grond weggesyfer het. In Gauteng is ʼn beraamde R3miljard se water vermors.
Die parlement se portefeuljekomitee oor water en sanitasie het die departement verlede jaar aangespreek oor sy laksheid deur sedert 2014 na te laat om die sogenaamde Groen- en Blou Druppel-Verslae oor water in te dien.
Die tyd het aangebreek dat die ANC verantwoordelikheid aanvaar vir die kultuur van wanbetaling en swak regering en daadwerklik handel met die waterprobleem wat binne jare ʼn krisis van ongekende omvang kan raak.
Wat grond aanbetref, moet die nasionale grondoudit nou bekend gemaak word. Dit pas die ANC om dit terug te hou aangesien onwaarhede oor grond sodoende vir politieke doeleindes versprei kan word.
Die ANC-regering kan nie aanhou om van grondeienaars die sondebokke te maak vir die regering se onvermoë om sy grondhervormingsteikens te haal nie.
– VF Plus