Die hooggeregshof in Pretoria het Dinsdag beslis die EFF en sy leier, Julius Malema, moet aanspreeklik gehou word vir die regskostes van ʼn hofaansoek om ʼn interdik te bekom wat die party en Malema verbied om die publiek aan te hits om onwettig grond te gryp of te betree.
AfriSake en AfriForum het in Maart 2017 daarin geslaag om dié interim interdik te bekom. Die interdik is egter uitgestel nadat die EFF en Malema ʼn aansoek gebring het om die interdik ter syde te laat stel.
Armand Greyling, regs- en beleidsanalis by AfriSake, het in ʼn verklaring gesê die EFF en Malema het probeer om vertragingstaktieke te gebruik deur hul hoofde van betoog laat te liasseer, maar die regter was nie tevrede met die redes vir die vertragings nie en het ’n kostebevel ten gunste van AfriSake en AfriForum gemaak. Die saak is gevolglik uitgestel en sal vir die volgende beskikbare hofdatum op die rol geplaas word.
“Die EFF en Malema het geweet hulle is in die moeilikheid en het geen regverdigbare verweer gehad oor waarom ons aansoek tersyde gestel moet word nie. Hul pogings was niks meer as ’n vertragingstaktiek nie en ons is tevrede dat die hof daardeur gesien het,” het Greyling gesê.
Hein Gonzales, AfriForum se bestuurder van risiko- en ondersteuningsdienste, het gesê die organisasies sal poog om so gou as moontlik ’n nuwe hofdatum te bekom sodat die saak aangehoor kan word. “Ons moet die interdik teen Malema en die EFF, insluitend sy lede, finaliseer sodat hulle verbied word om die publiek aan te hits en mense aan te por om grond onwettig te gryp en te betree,” het Gonzales gesê.
“Sou hulle nie aan die bepalings van die interdik voldoen nie, sal AfriSake en AfriForum prosedure vir minagting van die hofbevel instel wat tot ’n boete of gevangenisstraf of albei vir die politieke leier of lede van sy party kan lei.”
Greyling het gesê die EFF het probeer om die saak buite die hof uit te stel, maar AfriSake en AfriForum is nie bereid om in te stem tot enige uitstel nie, aangesien hulle meen die EFF en sy leier het meer as genoeg tyd gehad om vir die verhoor voor te berei.
“Dit sou nie in die belang van geregtigheid, of regverdigbaar, wees om tot dié uitstel in te stem nie, aangesien die EFF en Malema aanhou om mense op te roep om grond te gryp en te betree. Hoewel die finale geveg nog nie gewen is nie, is ons vol vertroue dat ons ons huiswerk deeglik gedoen het en dat die finale interdik teen die EFF en Malema toegestaan sal word,” het hy gesê.
Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, het gesê die organisasie is trots daarop om vir geregtigheid en die beskerming van eiendomsreg in Suid-Afrika te kan veg. “Malema en die EFF sê dat hulle ekonomiese vryheid wil hê, maar hulle optrede sal slegs armoede en wetteloosheid tot gevolg hê. Met elke insident van aanhitsing en die leidende rol wat hulle in onwettige grondgrype speel, ondermyn hulle die vooruitsig van ekonomiese vooruitgang vir die samelewing in die geheel. AfriSake en sy vennote het reeds en sal aanhou om in hul pad te staan.”
Deur: Maroela Media