Plaaswerkers en plaasbewoners het nie net ’n morele aanspraak nie, maar ook ’n ekonomiese aanspraak op produktiewe landbougrond, het Colette Solomon, direkteur van Women on Farms, aan die parlement se komitee oor grondwetlike hersiening gesê.
Dié komitee het Donderdag sy openbare sittings oor die eiendomsklousule in art. 25 van die Grondwet voortgesit. Die komitee moet besluit of dié artikel grondonteiening sonder vergoeding moontlik maak.
Solomon sê Women on Farms is ten gunste van grondonteiening sonder vergoeding.
“Die morele aanspraak wat plaaswerkers op landbougrond het, is deur geslagte en eeue van bloed, sweet en die bydrae wat hulle tot landbou in die land, spesifiek in die Wes-Kaap, gemaak het. Hulle het ook ’n ekonomiese aanspraak op produktiewe landbougrond vir die vermindering van armoede en ’n onafhanklike en versekerde bestaan. Ons weet werk raak toenemend seisoenaal, onverseker en onbestendig.”
Vroueplaaswerkers sal volgens haar insae moet hê oor hoe onteiende grond verdeel word.
Sy het toegegee dat die Grondwet voorsiening maak vir onteiening, maar gesê die artikel is dubbelsinnig. Volgens haar is ’n “ondubbelsinnige, duidelike en eksplisiete” stelling in die Grondwet nodig om voorsiening te maak vir grondonteiening sonder vergoeding.
Strike Thokoane, Azapo-leier, waarsku dat die grondkwessie tot ’n “bloedrevolusie” in die land kan lei. “As ons nie aandag aan die kwessie van grond gee nie, gaan mense opstandig raak. Of ons nou daarvan hou of nie. Ons kan poer-poer, maar dit sal nie lank wees voordat dit ons inhaal nie.”
In die suide van Gauteng waar hy vandaan kom, het mense reeds besluit om grond te begin afvat.
Die tekens is reeds daar, sê Thokoane. In die suide van Gauteng waar hy vandaan kom, het mense reeds besluit om grond te begin afvat.
“Dit is net ’n kwessie van tyd voordat hulle na Van der Merwe se plek gaan en dit gaan beset. Dit is waar ons bloedvergieting kan sien,” sê hy.
Die vereniging van swart boere (Afasa) dink egter nie daar is ’n moontlikheid van ’n rasseoorlog nie.
Dr. Vuyo Mahlati, pres. van Afasa, sê dié organisasie werk saam met Nafu, Agri SA en die TLU.
“Ons werk aan ’n nasionale landbouplan en al vier organisasies stem saam dat die huidige situasie met grondhervorming nie haalbaar is nie.”