’n Boervrou van Bothaville in die Vrystaat, Annetjie van Schalkwyk, het Sondag kopgehou toe plaasaanvallers haar gedwing het om die wapenkluis oop te sluit. Sy het ’n pistool gegryp en op die aanvallers geskiet. Een van die aanvallers is gewond en in hegtenis geneem.
Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê Gerrie Van Schalkwyk, sy vrou, Annetjie, en hul dogter en ’n kleinkind het Sondag omstreeks 11:00 van die kerk teruggekeer.
Die mans het die gesin onder die motorafdak ingewag en Gerrie is uit die voertuig geruk en met ’n ysterstaaf bewusteloos geslaan.
Die aanvallers het Annetjie ook gegryp en in die huis ingedwing waar hulle kontant en vuurwapens uit die kluis geëis het.
Annetjie het die kluis oopgesluit, maar ’n vuurwapen gegryp en verskeie skote op die aanvallers gevuur.
Die mans het gevlug en sy het hulp ontbied.
Thinus Barnard, ’n lid van Bothaville se buurtwag, sê honderde boere uit alle windrigtings het gehelp om paaie af te sper en na die aanvallers te soek.
“Dit is net bakkies waar jy kyk,” het Barnard gesê.
Een van die mans is kort ná die aanval in ’n mielieland in hegtenis geneem waar hy geskuil het. Hy het ’n skouerwond opgedoen.
Nog ’n man is in hegtenis geneem, sê Johan du Plessis van Landelike Beveiliging. Du Plessis sê die man is ’n plaaswerker en word moontlik met die aanval verbind.
Du Plessis sê daar was werklik ’n goeie opkoms van boere en ’n helikopter en vliegtuig is gebruik om na die aanvallers te soek.
Die polisie en lede van Landelike Beveiliging het Sondag saamgewerk om na die aanvallers te soek, sê Thakeng. Al vier aanvallers is teen laat Sondagaand aangekeer.
Hommeltuie is ook ingespan.
Sondagmiddag laat was die polisie se taakspan en honde-eenheid steeds warm op die spoor van nog drie aanvallers. Boere het gehelp om ’n kordon om die gebied te span.
Die Van Schalkwyks woon op die plaas Normandie in die Humansvlakte-gebied tussen Bothaville en Hoopstad.
Kringtelevisiekameras by die plaas se skure is beskadig en die kameras by die huis is deur die aanvallers ontduik.
Geen beeldmateriaal van die aanvallers is opgeneem nie.
Gerrie is met ernstige kopwonde in ’n hospitaal in Klerksdorp opgeneem, maar teen laat Sondagmiddag per helikopter na Bloemfontein geneem. Hy het volgens Du Plessis bloeding op die brein en sy toestand word as ernstig beskou.