Drie Nederlandse toeriste is Maandagaand naby hul blyplek gekaap.4Hulle is later deur bosbouers gered waar hulle in ‘n plantasie tussen Sabie en Hazyview rondgedwaal het.
Die bosbouers was rondom 22:00 besig om vure in die plantasie te slaan, toe hulle op die man, vrou en hul jong volwasse seun afkom.
Een bosbou-ondersoekbeampte wat op die toneel was, sê die drie is naby hul vakansieverblyfplek in Hazyview gekaap deur twee mans met ‘n handwapen.
Die seun is in die aanvallers se Polo inforseer, terwyl een van die aanvallers die gesin se huurmotor bestuur het. Hy is by die Kiepersol-afdraai afgelaai en sy ouers in die plantasie.
Die toeriste se huurvoertuig is nie ver daarvandaan verlate aangetref, met die motordeure oop en die sleutel weggegooi.
Die beampte sê die kapers het gefokus om hul toerusting, soos bankkaarte, te steel, en het hul PINs gevra. Iemand wat hulle later op die toneel gehelp het, het vir hulle sy foon geleen om hul kaarte in Nederland te kon stop.
“Hulle was erg getraumatiseer,” het hy gesê.
Hy het bygevoeg dat die Sabie-polisie eers sowat twee uur later op die toneel opgedaag het. Sekerheidsrolspelers, insluitende Hi-Tech Sekuriteit en Phoenix Sekuriteit, het die toneel beveilig, maar die polisie het volgens die bron die toneel vertrap.
Hulle het ook nie ‘n vingerafdrukstel by hulle gehad nie, en is terug stasie toe om een te reël. Hulle het egter nog twee uur later teruggekeer en, met handskoene aan, die voertuig terug Sabie toe bestuur.
Provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, het nie teen druktyd op die aantygings of navrae oor die voorval gereageer nie.
Dit is egter die hoeveelste aanval op toeriste in die area in die laaste weke en die polisie vermoed dit word deur ‘n sindikaat gedryf.
Hlathi het voorheen ‘n beroep op die publiek gedoen om inligting met die polisie te deel. “Hoe weet hulle om toeriste te teiken? Iemand moet iets weet.”
Tom Vorster van Kruger Lowveld Tourism het aan vir Laevelder gesê dat niemand beseer is nie en die gesin het aangegaan met hul reis.
Hy het bygevoeg dat KLT die volgende dag ‘n vergadering met SAPD gehad het om die voorvalle met toeriste te bespreek.