Die munisipale bestuurder van Kamiesberg Plaaslike Munisipaliteit, Joseph Cloete, sê hulle het geen aansoek ontvang van mnr. Niewoudt om die plaas vir iets anders as landboudoeleindes te gebruik nie.
Volgens Cloete, vir die plaas se spesifieke sonering mag jy nie meer as ‘n tweede woning en ander noodsaaklike strukture oprig nie. Cloete sê beleggers in die skema kan hulle geld verloor en die munisipaliteit kan sulke strukture sloop.
Intussen het daar ’n hewige debat losgebars op RSG se Spektrum program waar inbellers hul opinie gelug het oor die Mekka nedersetting vir Afrikaanse mense. Nie al die kommentaar was positief ten opsigte van die nedersetting, tog het die gesprek groot aandag getrek en Eureka op die landkaart geplaas.
Abrie Louw, administrateur van Eureka het die volgende op Eureka se FB geplaas na die gesprek op RSG:
“Goeiedag vriende, eerstens baie welkom aan nuwe lede wat die afgelope uur aangesluit het. Tweedens wil ek net vreeslik baie dankie sê aan die ANC en RSG vir die gratis bemarking van Eureka.
As gevolg van hulle onbaatsugtige diens gaan ek verseker WEER eers môreoggend 5 uur gaan slaap om al die registrasies te doen.
My hart bars van trots vir my Blanke Afrikaanse herkoms en volksgenote wat, ten spyte van pogings tot negatiewe propoganda, deur dit alles sien en steeds Eureka ondersteun.
73 eposse ontvang, almal van belangstellendes en nuwe registrasies, 1 wat navraag doen oor die radio berig, en 28 nuwe aansluitings op die fb groepe.
Baie dankie RSG en ANC wat, ten spyte van julle pogings om ons blankes met julle kommunistiese ideologieë te verdeel, ons blankes laat saam staan en Eureka nog groter en sterker maak.
Mooi dag vir elkeen van u.”
Vir diegene van julle wat nie ingelig is oor wie en wat Eureka is nie, hier onder volg ’n kort beskrywing
Eureka ’n ‘Mekka’ vir Afrikaners by Garies:
’n Mekka vir Afrikaanse mense wat nou “soos ’n padda in lou water is, maar nog net nie dood is nie”.
Dít is die droom wat Adriaan Nieuwoudt (71) het vir ’n “minder formele nedersetting” op sy stuk grond by Garies.
Nieuwoudt, voorheen die “vrotmelk-koning”, sê hy gaan nie weer ’n kubus begin nie – dit sal nie werk nie.
Hy sê hy het “1 000 dae en 1 000 nagte” gedink wat hy kan doen om sy mense te help en toe: “Eureka!”
Die Eureka-plan is vir ’n Afrikaanse nedersetting, “soos Orania”. “Dit gaan ’n proses van pay as you go wees.” Die grond is daar, daar is ’n plan om die brakwater te ontsout en sonkrag is die energiebron.
Mense word genooi om te belê in die openbare maatskappy en Nieuwoudt sal die aanvanklike infrastruktuur skep.
Elkeen bou sy eie huis en namate die gemeenskap groei, word inwoners ook van werk verseker wanneer hulle die kontrakte vir die bouwerk kry.
Die dokumente lui: “Almal moet verstaan dat u nie hier aansoek doen om ’n aanbod om ’n erf te bekom wat klaar uitgelê is nie. Dis ’n kaal stuk grond wat ons wil aanwend as ’n Afrikaanse nedersetting.”
Dit lui verder: “U adres hier sal slegs aangegee word as Eureka! Garies, 8220 (U veilige plekkie in die son).
“Dit is presies maar dieselfde ding as Orania. Die verskil is net die grond is duur by Orania, want dit is besproeiingsgrond. Ek het grond tot teenaan die see. Dit is gewone Namakwalandse grond. Daar is oorvloedig water, maar dit is brakwater.”
Die brakwater kan net so gebruik word vir riolering. Die brakwater sal by ’n aanleg, wat deel van die Eurekaontwikkeling sal wees, ontsout word. Nieuwoudt gebruik klaar ’n “ontsoutingsmasjientjie” op sy plaas om water te ontsout vir eie gebruik.
Wat Nieuwoudt beplan, is ’n openbare maatskappy met beleggers. Die aansoekvorm vir beleggers lui:
“Ons doen ’n beroep op elke lid om so gou moontlik, elkeen soos dit sy finansiële behoeftes pas, sy hoeveelheid aandele teen die stigterspremiewaarde te bekom.”
Vyfduisend aandele sal R1 000 kos.
Volgens die aanbod rus daar geen verpligting op enige lid om die aandele nou te koop nie. Beleggers is verseker van ’n erf waarop hulle self hul eie opslaanhuis kan gaan bou. Die belegging wat mense maak, sal wees om hul eie geld te gebruik vir hul eie huise. Die grond sal op huurpag van 99 jaar aan die eienaar van die huis verhuur word.
Al die werk wat gedoen word, moet gedoen word deur die openbare maatskappy wat vir die doel van Eureka se voortbestaan deur Nieuwoudt begin is.
“Die klem hier lê op die veiligheid van ’n persoon se lewe. Die veiligheid van ons taal en kultuur.”
Nieuwoudt is bekommerd oor die voortbestaan van die Afrikaanse mense.
“Die Afrikaanse mens is soos ’n padda in lou water, hy is nog net nie dood nie.”
Eureka gaan volgens Nieuwoudt die “mekka word vir Afrikaanse mense”. Met “welwillendheid teenoor almal en kwaadwilligheid teenoor niemand nie” wil Nieuwoudt help dat “ons nou ons eie toekoms bepaal”.
Elizaan De Koker