Die inhegtenisneming van vyf polisiebeamptes wat na bewering betrokke was by voorvalle van mensehandel, menseroof en afpersing is verwelkom deur polisiehoof Genl. Khehla Sitole.
Volgens , nasionale polisiewoordvoerder Brig. Vishnu Naidoo was die eerste voorval op 27 Maart toe tien Bangladesjers wat glo deur Zimbabwe na Suid-Afrika gesmokkel is, glo deur polisiemanne ontvoer is. Vier polisielede in twee gemerkte blitspatrollievoertuie het glo die groep Bangladesjers op die N1 voorgekeer, het hy gesê .
Twee van die tien slagoffers is op 31 Maart vrygelaat nadat hulle familielede ʼn losprys betaal het.
Naidoo het gesê die polisie se intelligensie-eenheid het onophoudelik aan die saak gewerk en vier lede van die Silverton-blitspatrollie as die vermeende betrokkenes geïdentifiseer. Lasbriewe vir hulle inhegtenisnemings is vandeesweek uitgereik en lede van verskeie polisie-eenhede het vanoggend drie van die polisiekonstabels by die polisie se 10111-inbelsentrum in Silverton in Pretoria aangekeer. Die vierde vermeende betrokkene het in daardie stadium nog nie vir diens aangemeld nie, maar gaan na verwagting binnekort ook aangekeer word, het Naidoo gesê.
In ʼn afsonderlike voorval is twee lede van ʼn intervensiespan in Mamelodi in Pretoria óók in hegtenis geneem, dié keer op ʼn aanklag van afpersing. ʼn Man, vermoedelik ʼn dwelmsmous, het die polisie se teenkorrupsie-eenheid gekontak en ingelig dat polisielede geld van hom eis.
Die twee lede is gisteraand by ʼn restaurant in Silverton aangekeer en die beweerde afpersingsgeld by hulle gekry. Een van die polisielede is verbonde aan die Silverton-polisie, maar is tans ontplooi by ʼn reaksie-eenheid in Mamelodi. Die ander polisielid is ʼn lid van die provinsiale anti-bende-eenheid.
Sitole het sy teleurstelling in die voorvalle uitgespreek.
“Dis ontmoedigend wanneer polisielede wat met die veiligheid van wetsgehoorsame burgers vertrou word, na bewering sélf ook misdaad pleeg,” het Sitole gesê.
Al vyf polisielede is in aanhouding en sal later in die hof verskyn.
Hierdie berig weerspieël nie noodwendig die mening van SAUK-nuus nie.