Dit is opvallend dat ene Johan Pienaar se (verwerplike) optrede by die Woordfees op Stellenbosch om die ou landsvlag (die Oranje Blanje Blou) op die sypaadjie te gooi sodat die publiek dit kan vertrap, saamloop met die Mandela Stigting se aansoek by die Gelykheidshof dat die vertoon van dié vlag as haatspraak verklaar word.
Pienaar sê in sy verklaring dat die Oranje Blanje Blou ‘n simbool is van ‘n regering wat ‘n misdaad teen die mensdom gepleeg het.
Dít is van alle waarheid ontbloot. Hierdie vlag is ‘n simbool van orde, beskawing, vooruitgang, vryheid, respek vir kulturele verskille en ‘n Christelike bestel. Onder dié vlag het Suid-Afrika na Republiekwording ‘n absolute vrede beleef: “‘n voorbeeld van skitterende vrede op ‘n beroerde kontinent”, soos die Rand Daily Mail op 30 Julie 1966 geskryf het. Daar was ‘n groeiende eenheid in volksgeledere. Die land het ‘n ongekende bloeitydperk op ekonomiese gebied beleef.
Onder die Oranje Blanje Blou is die stryd teen die kommunisme geveg en onder die gewapper daarvan het ons soldate roem verwerf. Met sy optrede speel Pienaar in die hande van die Marxisme en word die nasionalisme vernietig en die liberalisme en kommunisme bevorder.
Pienaar het dit daarteen dat dié vlag apartheid verteenwoordig. Dan skryf hy name op die vlag van juis dié mense wat apartheid afgebreek het, soos mnre John Vorster (wat begin het om die apartheidsbeleid van dr Verwoerd te vernietig), PW Botha, Connie Mulder, Jimmy Kruger en heelparty hedendaagse nuuskommentators.
As Pienaar nie ‘n Afrikaner wil wees nie, gun ons hom dit, maar los dan die Afrikaner en die simbole wat vir hom kosbaar is uit. Deur die Oranje Blanje Blou op Stellenbosch te vertrap, vertrap hy die Afrikaner as volk. Of hy dit uit onkunde of doelbewus doen, sal hy weet.
Ons, die Afrikanervolk, staan by dit wat dr DF Malan op 25 Mei 1926 gesê het met die aanvaarding van die Oranje Blanje Blou as landsvlag vir Suid-Afrika:
“ ‘n Vlag is ‘n sinnebeeld van volksbestaan. ‘n Vlag kan die grootste geesdrif skep… kan tot trane roer… kan die diepste dryfvere tot handeling in beweging bring, en kan tot die edelste pogings besiel. Vir ‘n vlag kan ‘n volk leef, en kan hy veg en sterf.
Deur: Andries Breytenbach/ Leier van die HNP
7 Maart 2018