Altesame 14 brandweerbeamptes van Kaapstad moes Saterdag van ’n brandtoneel in Wallacedene in Kraaifontein vlug nadat hulle deur ontstoke inwoners aangeval, met klippe bestook en selfs met grawe geslaan is.
Van die brandbestryders, drie vroue en twee mans, het kneusplekke en snye opgedoen. Een vrou se gewrig is gebreek.
Die brandweerspanne van Kraaifontein en Brackenfell is omstreeks 17:00 uitgeroep na ’n toneel waar ’n plakkershut in ’n agterplaas aan die brand geslaan het, maar moes onttrek toe die situasie te gespanne geraak het.
Ons spanne word aangerand terwyl hulle lewens probeer red. Mense raak kwaad as ons te lank vat.
Theo Layne, woordvoerder van Kaapstad se brandweerdiens, het gesê 14 brandbestryders, twee brandweerwaens, een watertenker en een reddingsvoertuig het uitgegaan om die brand te blus.
Hy sê toe die span hul toerusting wou uitkry, het die gemeenskap aggressief geraak en op hulle begin skree.