Betogers in Houtbaai, Kaapstad, het Sondag die departement van landbou, bosbou en visserye (DAFF) se kantoor in die hawe aan die brand gesteek en ’n private woning glo ook met klippe bestook.
Wayne Dyason van die Kaapse-metroraad se wetstoepassingsafdeling, het kort voor 13:00 bevestig dat ongeveer 300 mense dié gebou aan die brand gesteek het.
“Die betogers beweeg nou ná ’n private huis, waar dit lyk asof hulle dit met klippe begin bestook het.”
Talle wetstoepassers en polisielede is vroegmiddag na die hawe ontbied.
Lt. kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, het bevestig die polisie is na die betogings ontbied terwyl geboue in die hawe beskadig is.
“Niemand is al in hegtenis geneem nie. Ons lede sal in die gebied bly om wet en orde te handhaaf.”
Intussen is Prinsesstraat wat na die hawe lei by Alexanderlaan gesluit, sê Maxine Bezuidenhout, woordvoerder van Kaapstad se verkeersdienste.