Die inwoners van die klein Wes Kaapse dorpie Redelinghuys, ongeveer 160 km Noord van Kaapstad, moes vanmore hulpeloos toekyk hoe die NG Kerk, ‘n historiese gebou, afbrand.
Die hoeksteen van hierdie kerk is op 5 Oktober 1918 gelê.
Na wat verneem word het brand begin by een van die selfoon maste wat op die toring gemonteer was, maar die amptelike oorsaak van die brand sal deur die ondersoekspanne bepaal word.
Morné van Rooyen vertel hier meer oor die geskiedenis van hierdie pragtige gebou:
Redelinghuys en Aurora word die NG Moedergemeente Piketberg se tweelingdogters genoem omdat hulle op agtereenvolgende dae in 1906 (Aurora 25 April en Redelinghuys 26 April) van die moedergemeente afgestig het.
In die dae van klein plase en groot gesinne was die ou kerkgeboutjie op Redelinghuys met sy grondvloer, ondigte rietdak en nouliks 250 sitplekke veels te klein en ondoelmatig vir ‘n gemeente van nagenoeg 1 000 lidmate.